![]() Wat besit jy? Die wêreld meet rykdom aan dit wat jy besit. Lees hoe meet Jesus dit: Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees (Matteus 6:19-21). Die vraag is nie wat jy besit nie, maar eerder wat besit jou: óf jou besittings besit jou óf God besit jou. As God jou besit, meet jy rykdom anders. Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. ![]() Niemand hoef jou daarvan te oortuig dat ons in ’n stukkende wêreld leef nie. Dalk is jy vandag ernstig bekommerd oor die vraag of jy en jou geliefdes dit in die toekoms gaan maak. Die geweld, korrupsie en die dreigende resessie is genoeg om ’n mens moedeloos te laat voel. Luister wat sê ons Here vandag vir jou: ’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie … (Jesaja 42:3). In hierdie woorde lê die troos dat God eenmaal sy Seun in ons plek verwerp het, sodat ons mag lewe in die belofte dat Hy ons ook op hierdie moeilike pad nooit alleen sal los nie. Vertrou Hom daarin! Soms voel die Here net ver. Dit kan wees weens skuldgevoel, sonde, ’n besige lewe of swaarkry. Hierdie dinge is soos melaatsheid wat afstand bring en dan voel dit of God jou verwerp.
Luister egter wat doen Jesus: ’n Melaatse man kom kniel toe voor Hom en sê: ‘Here, as U wil kan U my gesond maak.’ Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê: ‘Ek wil. Word gesond!’ (Matteus 8:2-3). Maak nie saak hoe ver verwyderd God vir jou voel nie, sy genade is ook vir jou net ’n aanraking ver. Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here ... Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord! (Psalm 119:1 en 9).
Wat behels ’n sinvolle lewe? Mense wonder gedurig oor die sin van hul lewe. Psalm 119 sê ’n sinvolle lewe is een wat saam met God geleef word - dag vir dag en tree vir tree. In die gejaagde wêreld van vandag is dit ’n uitdaging en die enigste manier is om jou te hou aan God se Woord. Mag ek en jy vandag saam met die digter getuig: “Weerhou my van ’n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys” (Psalm 119:37). Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou (Psalm 118:8). Sommige mense sê dat Psalm 118 die middelste hoofstuk van die Bybel is. Die eintlike vraag wat Psalm 118 na vore bring, is: Is God die middelpunt van jou lewe?
Baie mense verwerp Jesus as die hoeksteen, terwyl Hy eintlik die belangrikste plek in ons lewe behoort te neem. Hy is immers God se goeie nuus in elke deel van ons lewe. Wanneer jy raaksien dat God jou middelpunt is, kan jy rustig by Hom skuil eerder as om op mense te vertrou. En dit is die middelste vers van die Skrif. Psalm 117 is die kortste hoofstuk in die Bybel - dit bestaan net uit twee verse:
[1] Prys die Here, alle nasies, loof Hom alle volke, [2] want sy liefde vir ons is sterk, aan die trou van die Here is daar geen einde nie! Prys die Here! Dit begin, in die ou Hebreeus met “Halleluja” en eindig ook weer daarmee. Die hele Psalm is met ander woorde in sy geheel ’n uitroep wat sê: “Halleluja, Prys die Here” want: · Sy liefde vir jou is sterk. Letterlik staan daar met groot nadruk: “geweldig” is sy liefde vir jou. Dit is eenvoudig onweerstaanbaar, daar is niks daarteen bestand nie, ja, dit is soos ’n tsunami wat oor jou spoel. Sy liefde vir ons sien ons in Jesus Christus: “geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of hoogte of diepte of enige iets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Romeine 8:38 ev). · Aan sy trou is daar geen einde nie. Teenoor die onbetroubaarheid van die mens, kan jy die Here volkome op sy Woord neem! Wat Hy sê en wat Hy beloof, staan vas. Glo Hom wat beloof dat Hy jou lief het en betroubaar is en loof en prys Hom vir sy goedheid! Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing (2 Timoteus 1:7).
Wat is selfbeheersing? Die woord selfbeheersing beteken dat my “eie-ek” nie deur my sondige begeertes beheer word nie, maar deur die Gees van God. Die vrug wat Hy in ons lewe werk, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (kyk Galasiërs 5:22). Vertrou God genoeg om hierdie vrug in jou lewe vir almal sigbaar te maak.
Dink mooi na wat die woordjie getrouheid regtig beteken: getrou, betroubaar ... presies dít wat die mens nie is nie! God is egter betroubaar: “God is getrou; Hy doen wat Hy beloof het” (Hebreërs 10:23). Dink net aan al sy beloftes! Die grootste daarvan is sekerlik dat Hy Hom van sy kant af aan ons verbind het sodat ons in die sekerheid mag leef dat niks ons ooit van Hom kan skei nie.
Streef daarna om in navolging van ons Here, self ook betroubaar te wees teenoor Hom, jou naaste en jouself.
Die woord goedhartigheid sê presies wat jy hoor: dit is iemand wat ’n goeie hart vir ander mense het. Wie het ooit ’n groter hart van liefde vir mense gehad as ons Here Jesus? Vir sondaars het Hy Homself gegee aan die kruis ... ja, vir jou, vir my, sodat ons kinders van God genoem mag word!
Dieselfde gesindheid moet ook in ons harte opkom: doen goed aan ander mense ... alle mense! Reik opreg uit met ’n warm hart van liefde. Iemand wat Jesus volg, is ’n vriendelike mens. Dit is immers deel van die vrug van die Gees. “Die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid …” (Galasiërs 5:22).
Ek en jy leef met die wete dat ons Here in beheer is en enige tyd kan terugkeer. Dit gee ons blydskap en dryf ons om elke dag God se vriendelikheid met ander te deel. |
Argief
November 2017
|