Soos wat jy nou hierdie stukkie lees, is jý die Godgestuurde daar waar jy is. Besef jy dit? Dit is nie nog ’n lysie van iets wat jy moet doen of iets waaroor jy skuldig moet voel nie, maar dis iets wat jy reeds is (Johannes 20:21).
Jy is moontlik die enigste “Bybel” wat jou kollegas lees. Hou daaraan vas dat die genadegawes wat God aan jou gee genoeg is vir waar jy nou is as gestuurde (Romeine 11:29). Dankie Here vir die gawes en geleentheid wat U my skenk om U gestuurde hier te wees. “The way you follow determines the way you lead,”word gesê.
In Matteus 28 vind ons die groot opdrag om dissipels te maak. Om dit reg te kry moet jy self eers ’n dissipel wees. Die wêreld maak baie van leierskap terwyl Jesus ’n groter klem sit op volgerskap: Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het Hy ’n man met die naam Matteus by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: “Volg my!” (Matteus 9:9) Jy moet Jesus eers self volg om sy instrument te wees om volgelinge te maak. Volg hom! Het jy onlangs ’n sonsopkoms gesien? Die skoonheid en prag van ’n nuwe dag is ’n merkwaardige geskenk wat ons elke oggend kan geniet.
Dit laat ons telkens besef dat God die gewer is van alles wat mooi is: Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ’n gawe uit die hand van God is (Prediker 2:24). Besef jy dat bo en behalwe die dinge wat Hy vir ons in hierdie lewe gee om ons te versorg, Hy ook liefde, verhoudings, geloof en bo alles die geskenk van Christus gee. Sien raak, waardeer, beleef en wees dankbaar vir wat God vir jou gee: So ’n mens dink skaars na oor wat in sy lewe gebeur, so vol is hy van die blydskap wat God gee (Prediker 5:19). Dalk word jy ook soms so vasgevang in die rat race dat jy van God vergeet. Hy vergeet nooit van jou nie. Sonder dat jy dit besef, is Hy elke oomblik besig om vir jou te bid, besig om jou te beskerm en besig om met jou te praat.
Ons elkeen het tyd nodig om waarlik te luister en te praat. Jesaja gebruik ’n mooi beeld om God se betrokkenheid in jou lewe te beskryf: Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het (Jesaja 55: 10 en 11). Lê jou dus daarop toe om opreg te luister na wat die Gees vir jou sê (Openbaring 3:6). |
Argief
November 2017
|