Is die sabbat vir jou ’n dag, ’n plek of ’n persoon?
Vir baie mense is die konsep van sabbat irrelevant en tog is een van die grootste siektes van vandag om uit te brand. Studies wys dat almal rus nodig het. Dit is maklik om te dink dat rus voorkom in die vorm van ’n afdag waar jy niks doen nie. Vir gelowiges is die konsep van die sabbat eerder ’n vraag oor identiteit, want die vraag is: in wie vind jy jou rus? Wanneer Jesus in Matteus 12:8 sê Hy is Koning oor die sabbat besef ons dat die sabbat meer oor Hom gaan as oor wat ons doen of nie doen nie. Luister wanneer ons Koning sê: Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee … (Matteus 11:28). Mag jy vandag oomblikke van rus ervaar in die Koning se teenwoordigheid. Terwyl jy hierdie boodskap lees, is daar waarskynlik iemand wat op hierdie oomblik gemartel of selfs doodgemaak word omdat hy of sy die Naam van ons Here bely. Elkeen van ons kry elke dag geleenthede om dieselfde te doen, maar tog word ons betrap in ’n wêreld waar die Naam van die Here misbruik word. In sulke tye is dit nodig om die woorde van Skrifberyming 14-1 te onthou: Waak, Christen,staan in die geloof dat niemand jou die kroon ontroof! … Wees wys en dapper, sterk en moedig ... Ons het die voorreg om die Naam van Christus te dra (Handelinge 11:26) … wees ’n Christen wat die Naam van ons Here in alles grootmaak (Jesaja 6:1-8).
Dawid leef vanuit die belydenis dat dit God self is wat alles in sy lewe vir hom ‘voleindig’ (Psalm 57:3, Ou Afrikaanse Vertaling). Hy glo dus vas dat God hom alles ten goede sal laat meewerk, selfs al verstaan hy nie altyd die weë van ons Here nie (Romeine 8:28). Dít is waaraan ons ook elke dag moet vashou.
As ons nou so aan die einde van die jaar terugkyk op 2015, kan ons ook nie anders nie as om saam met ’n Dawid van ouds te moet erken dat daar geleenthede was warop ons moes uitroep: “Wees my genadig, o God! Wees my genadig” (Psalm 57:2), maar dat daar ook tye was dat ons uitgejubel het: Ek voel weer veilig, o God! Ek voel weer veilig! Ek wil ’n lied sing, ja, ek wil sing (Psalm 57:8). Nooit was jy alleen nie, selfs al het dit dalk by tye so gevoel. Die jaar 2016 lê voor ons. Hou vas aan die belofte dat jou Voleinder met jou ’n pad gaan stap waarin jy met sekerheid kan weet dat alles jou ten goede gaan meewerk, selfs al mag dit ’n pad wees wat jy nie verstaan nie. Vertrou Hom! Mag hierdie Kerstyd vir jou werklik ’n Christus-fees wees ... Elkeen van ons ken seerkry en moeilike omstandighede en uit daardie plek van seer het ons baie keer vrae - vrae soos: Hoekom kan dit nie net goed gaan met my of die mense naby aan my nie?
God kom wys ons in Psalm 73 die ware betekenis van wat voorspoed is, maar nog meer as dit, Hy kom wys ons waar ons troos en vashouplek is in tye van seer en nood (Psalm 73:23): Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. In ons tye van seer en nood los God nie sy kinders alleen nie. Ons het ’n Vader wat ons vashou, ’n Vader wat ons deur die lewe dra. Dit is die boodskap van troos en bemoediging in tye van seer. En met daardie troos kan ons vir die wêreld vertel: Dit is vir my goed om naby God te wees! Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ek help jou (Jesaja 41:13). “Wie kan ons voor die regter daag?
Gods uitverkore kind verklaag? Waar is die mond wat durf verdoem as God sy kind regverdig noem? Dis Christus wat die skuld wou dra, die dood vir ons gesterf het, ja, wat opgewek in glorie sit en altyddeur vir ons wil bid. Wie sal ons, van die skuldstraf vry, van Christus en sy liefde skei? Verdrukking of vervolgingsnag? Benoudheid wat ons hier nog wag? Geen skepsel in die skepping wyd, geen ding in tyd of ewigheid – niks kan ons van Gods liefde skei wat ewig-vas in Christus bly” (Sk 5-4:1,2,3,6) Om die waarheid van die Woord van God teenoor die valsheid van die Rooms-Katolieke leer van destyds te stel, het Martin Luther op 31 Oktober 1517 vyf en negentig stellings teen die houtdeur van die katedraal in Wittenberg vasgeslaan. Dit was die begin van wat ons as Christene die ‘Reformasie’ noem en wat ons ook in hierdie tyd gedenk. “Terug na die waarheid van die Woord”, word ons deurentyd aan herinner. Die Reformasie is egter nie bloot ’n gebeurtenis uit die verlede waaraan ons vandag terugdink nie. Ware Reformasie is ’n aktiewe werkwoord: Ek druk julle dit op die hart ... Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het (Efesiërs 4:1). Ons is Christene ... laat ons elke oomblik, onder alle omstandighede, oral die naam ‘Christen’ waardig wees deur te leef soos Christus dit van ons verwag. Ons hét die waarheid van die Woord van God wat die lig op ons pad is. Lewe met vreugde daarin.
“In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem” (Handelinge 11:26). Ons Here Christus se Naam, so gebind aan die naam van mense wat in Hom glo ... letterlik: Christus-mense. Wat ’n erenaam!
Van daardie dag af, kort ná Jesus se hemelvaart, het hierdie naam vir die wêreld ’n skelnaam geword en wrede vervolging van Christene het begin. Deur al die eeue heen, tot vandag toe, haat satan hierdie naam en probeer hy om deur geweld (en misleiding) die naam Christen dood te smoor. In ons pragtige land leef ons nog in vrede – in talle lande regoor die wêreld is daar openlike bloedige vervolging van Christene. Bid vir hulle wat vervolg word omdat hulle die kosbare naam van ons Here Christus bely en wees trots op díé erenaam aan jou gegee: Christen ... Christus-mens! Die woord versoening is in ons Suid-Afrikaanse konteks grootliks polities gelaai. Eenvoudig gestel: daar is die politieke strewe om mense, groepe, tale en kulture wat voor 1995 vervreemd (en ja, selfs in vyandskap) met mekaar geleef het in een reënboognasie te verenig en in vrede te laat saamleef ... Versoening het egter ’n oneindig dieper dimensie. Besef jy dat jy van ons Here God vervreemd was? Sonde het ons almal van Hom geskei en sonder Hom sou ons uiteinde die ewige dood gewees het. God het Hom egter van sy kant af weer met ons versoen: Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie ... Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! (2 Korintiërs 5:19, 20).
My kind, ek het jou al liefgehad nog voordat jy gebore is, daar waar ek jou in jou moederskoot aanmekaar geweef het. (Ps 139:13) Ek het jou nou lief, hier waar jy my liefdesverklaring lees, en Ek sal jou tot in Ewigheid liefhê. (Ps 136) Ek het jou lief soos jy is! (Rm 5:10) Ek sal nooit toelaat dat enige seerkry of swaarkry in jou lewe inkom wat Ek nie met die oog op die ewigheid kan gebruik nie. (Rm 8:28) Niks kan jou van My liefde skei nie (Rm 8:35-39). Ek het duur betaal om my liefde aan jou te bewys, maar vir jou is dit verniet! (Jh3:16) Glo dit!
|
Argief
November 2017
|