JESUS SE SESDE KRUISWOORD
Dit is volbring (Johannes 19:30). Dit was Jesus se voorlaaste woord aan die kruis voordat Hy sy laaste asem uitgeblaas het. Dit was geen versugting van sy kant nie, maar ’n uitroep van triomfantlike oorwinning! In Grieks is dit net ’n enkele woord: Tetelesthai, maar in betekenis aangrypend ryk. Dit was in Jesus se tyd ’n bekende finansiële term wat verwys het na twee dik parallelle strepe wat deur ’n skuldbrief getrek is en waartussen geskryf is: “Hierdie skuld is ten volle betaal.” Wanneer Jesus hierdie woord uitroep, dan verklaar Hy dat Hy ten volle betaal het vir al ons sonde: Hy het die skuldbrief teen ons ... uitgedelg ... deur dit aan die kruis vas te nael (Kolossense 2:14 – Ou Afrikaanse Vertaling). Aanvaar Jesus se betaling van jou sonde en leef met dankbare oorgawe vir jou Here! Ek het dors (Johannes 19:28). Só hoor ons ons Here prewel aan die kruis, kort nadat Hy tevore uitgeroep het: My God, My God, waarom het U My verlaat? In hierdie versugting (in Grieks is dit net die enkele woord dipso) hoor ons seer en swaarkry in sy uiterste vorm. Dit was my Here vir my! Dit was my tong wat aan my verhemelte moes vaskleef, ek wat vir ewig helledors moes ly, maar Hy het in my plek gely. In ons eie seer en swaarkry hoor ons die liefdevolle uitnodiging: Kom na My toe, almal wat dors is ... Ek lei jou na stille waters waar daar rus is ... JESUS SE VIERDE KRUISWOORD
Toe word dit skielik helder oordag stikdonker - ’n doodse anderse donkerte as gewone nag. Dit is twaalfuur, ’n Vrydagmiddag, in aanloop tot die Paasfees. Omstanders by die drie kruise op Golgota wonder oor die betekenis van hierdie dinge. Aan die middelste kruis worstel Jesus met satan. Pynlik, intens ... Hy weet dat hierdie skrikwekkende donkerte God se oordeel oor mensesonde is waarvoor Hy moet betaal. Teen drieuur die middag weerklink ’n stem van wanhoop en angs: “My God, My God, waarom het U My verlaat” (Matteus 27:47). Deur God verlaat! Dít was Jesus se betaling vir jou sonde sodat jy met die sekerheid mag leef: Nooit sal ek ooit deur God verlaat word nie. Dank Hom vir Jesus se betaling van sonde ... Jesus se eerste woorde nadat Hy aan die kruis vasgespyker is, was gerig op sy vyande wat Hom haat:
Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. Daarna spreek Hy ’n geharde sondaar vry: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees. In sy derde kruiswoord rig ons Here Hom tot sy naby geloofsfamilie wat swaar kry. Ons sien in ons geestesoog Jesus se ma, ’n paar ander vroue en Johannes daar voor die kruis (al sy ander dissipels het Hom in die steek gelaat en gevlug). Hulle is stukkend en verward. Dan hoor ons Jesus met sy ma en Johannes praat: “Vrou, daar is jou seun ... Kyk, daar is jou ma” (Johannes 19:27, Nuwe Lewende Vertaling). Deur hierdie verbintenis praat Jesus ook vandag nog met my en jou: ons is ’n geloofsfamilie wat mekaar nodig het. Ons moet mekaar liefhê en opreg vir mekaar omgee. Wat ’n voorreg om in hierdie Paastyd opnuut weer te besef dat ons Here ons deel gemaak het van ’n geloofsfamilie in die kerk waar jy is. Dank Hom daarvoor! Drie kruise op Golgota-koppie. Drie gekruisigdes in gesprek te midde van die onmenslike pyn van mishandeling - aan die buitekant twee gruwelike politieke misdadigers, van die laagste tipe in die samelewing. Eers spot hulle al twee met die middelste kruis. Die middelste kruis swyg.
Skielik verander die een misdadiger se gesprek soos handomkeer. ’n Belydenis volg: Hy, aan die middelste kruis gespyker, is onskuldig! Dan ’n gebed: “Jesus, dink aan my wanneer U in die koninkryk kom.” Onbeskryflik klink die woorde van die Verlosser: “Ek verseker jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Lukas 23:43). Voel jy soms dalk ook so laag, vuil en sondig soos die misdadiger aan die kruis? Geen sonde is te groot om vergewe te word nie! Bely jou sonde eerlik teenoor jou Verlosser en glo die verklaring van Hom wat aan die middelste kruis vir jou gesterf het: Vandag, saam met My in die paradys! Lukas 23:34
Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie! Dit is aangrypend om te dink dat Christus besig was om te bid vir mense wat Hom uit haat aan ’n kruis vasgespyker het. Gedryf deur sy liefde vir die mens bid Hy om vergifnis wetende dat dit Hom sy lewe gaan kos. Wanneer Hy bid dat die Vader hulle moet vergewe, dan bid Hy dat hull tot die volle besef sal kom dat hul skuld betaal is om daardeur met God versoen te word. Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê (1 Johannes 3:16). Begryp jy dat dit ook waar is vir jou? In Eksodus 20:16 staan daar: “Jy mag nie vals getuienis teen `n ander gee nie.”
Lees bietjie wat sê ons belydenis wat hierdie sin beteken: Ek mag teen niemand valse getuienis aflê, niemand se woorde verdraai, nie `n kwaadsteker of lasteraar wees nie, niemand onverhoord en ligtelik help veroordeel nie. Alle vorme van lieg en bedrieg moet ek as die duiwel se eie werke vermy as ek nie die sware toorn van God oor my wil bring nie. In regsake en in alle ander handelinge moet ek die waarheid liefhê, en opreg wees in wat ek sê en bely. My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder. Dit is `n kort sin met `n lang impak. Maak seker dat jy nie vals getuienis teen `n ander gee nie. In die lig van spanning by ons universiteite moet ons as Christene saam bid:
Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God is by jou oral waar jy gaan (Josua 1:9). Een van die warm onderwerpe in die media vandag is rassisme. Dit is hartseer dat alle mense nie in liefde met mekaar kan saamleef nie. Rassisme verklap gebroke verhoudings en dit breek bestaande verhoudings. Teenoor spanningskeppers is Jesus se volgelinge versoeningsoekers. Dink daaraan dat Hy in sy liefde Hom onvoorwaardelik aan ons verbind het:
Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God, Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van versoening toevertrou … Ons smeek julle namens Chrstus: aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! (2 Korintiërs 5:17-20) Matteus 26:36-46 en Romeine 13:1-7
Gehoorsaamheid was die verskil tussen lewe en dood. Ons sou dood gewees het as Christus ongehoorsaam aan sy Vader was. Hy het die opdrag gekry om Homself te gee as betaling vir ons sonde. Dink net wat sou die gevolge gewees het as Hy nie gehoorsaam was nie. As dit die pad was wat Hy vir ons gestap het, kan ons mos nie anders as om Hom in gehoorsaamheid daarop te volg nie al is dit soms baie moeilik. |
Argief
November 2017
|