Quo Vadis?Ons petrol is op – konsternasie in die hoenderhok. Die verkiesingsuitslae lê voor - vir tallebring dit geweldige spanning. ‘Studente’-dreigemente klink harder en harder: “Fees mustfall!”
Ondertussen gaan die lewe voort. Saam met groot dankbaarheid, vreugde en vrede, is daarook ongekende hartseer, onsekerheid en pyn. ’n Wolk van swaarmoedigheid hang oor baie. Ons Here staan nie eenkant weg en beskou ons lewe vér van ’n afstand af nie. Gaan lees gerus Psalm 37 en glo ons Here as Hy sê dat jy jou nie moet ontstel en kwel oor dingewaaroor jy nie beheer het nie: Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jouvreugde in die Here ... laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg (Psalm 37:3-5). Vertrou Hom, ja, vertrou Hom alleen! Meningspeilings in Tshwane dui daarop dat die ANC en die DA kop aan kop is in die aanloop tot die munisipale verkiesings. Verwagtinge is groot oor wie gaan wen, maar die uitslag is nie vir ons Here ’n verrassing nie, want Hy beskik uiteindelik oor wie regeer:
Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God (Romeine 13:1). Ons as Christene het ’n baie belangrike roeping in hoe ons reageer op die uitslag, want ook daarin moet ons sout en lig wees, selfs al het ons nie vir die triomferende party gestem nie. Die wêreld is soms ’n deurmekaarplek waar wrede dinge gebeur. Party mense sal enigiets doen om mag te verkry. Dink maar aan die onlangse aanvalle in Frankryk. Hierdie mense was selfs bereid om onskuldige mense se lewens te verwoes in hul pogings.
Jesus werk egter anders. Luister wat sê Hy aan sy dissipels: Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense (Matteus 20:25-28). By Jesus is ’n diensbare hart baie meer werd as mag en status. Hy wil juis hê dat ons Hom volg om die wêreld om ons met sy liefde en genade te bedien. Kyk bietjie rondom jou en let op hoe jy mense kan dien. God gebruik juis ons dienswerk om lewens te verander. Het jy geweet jy is ’n geskenk uit God se hand? Die Here wil graag elkeen van ons gebruik om ander te dien en daarom gee Hy aan elkeen wat glo gawes. Jy het nie jou gawes van God gekry vir jou eie bevrediging nie, maar om ander daarmee te dien. As jy nie aktief op soek is hoe om ander met jou gawes te dien nie, gaan ander nie kry wat hulle nodig het vir hul groei en dienswerk nie.
Luister vandag na God wat sê: Daar is ’n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; daar is ’n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; daar is ’n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring (1 Korintiërs 12:4-7). Watter geleenthede is daar vir jou om jou gawes as geskenk aan ander te gee? Musiek bestaan uit verskillende note: Dit is net soos met lewelose instrumente wat ’n klank afgee, soos ’n fluit of ’n siter. As daar nie klankverskille is nie, hoe sal ’n mens weet wat op die fluit of die siter gespeel word? (1 Korintiërs 14:7) Jy het verskillende note nodig om die eenheid van ’n lied te vorm. Net so gee die Here vir sy kinders verskillende gawes om mekaar te dien. Ons vorm immers saam die simfonie van Christus. Soos wat jy ander nodig het, het ander jou nodig. Dit is deur mekaar te dien dat ons saam in die Here groei. Jesus het self gesê: Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang (Handelinge 20:35). Eerlike gesprekvoering is nodig vir enige verhouding om te groei. Ook ons verhouding met God. Gebed is daarom om God self teë te kom. Angs, vrees en stres is deel van baie mense se daaglikse lewe. Tussen oorlaaide skedules en vol programme vind jy dalk min rus. Die goeie nuus is dat die Here Jesus jou behoeftes ken en weet wat vir jou goed is. Dit beteken jy kan Hom met ’n oop gemoed nader, want Hy blus die vuur van angs.
Luister as God vandag vir jou sê: Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Filippense 4:6-8). Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is; die pad van die goddeloses is soos die donker: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie … Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe (Spreuke 4:18, 19, 23). In hierdie lewe is daar twee paaie. Die een is die pad van lig, lewe en vrede, die ander een ’n pad van donker, struikel en vrees. Jesus het juis gekom vir sondaars wat op die verkeerde pad loop om te sê Hy is die weg, die waarheid en die lewe. Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang (Spreuke 28:13). Genesis 1:1 en 26-27
Die lewe het nog nooit oor jou gegaan nie - nooit ooit nie. God het die mens (dus ook vir jou) geskep om ’n voorstelling van Hom te wees. Die mens (ook jy) moet bydra tot die heerlikheid van God soos ’n kunswerk bydra tot die roem van die kunstenaar. God en sy wonderlike karakter moet die eerste wees waaraan iemand dink wat jou sien. Vandag is mense gemik op hulleself en hul eie roem en eer. Begryp dat die lewe oor ’n groter realiteit as jyself gaan en dat hierdie God sy eie Seun prysgegee het om in ’n lewende verhouding met jou te wees. Jy is vir Hom onsettend kosbaar. Ons Here Jesus het gesterf – dit is wat ons op ‘Goeie Vrydag’ in herinnering geroep het. Op ‘Paassondag’ het ons sy opstanding uit die dood gedenk. Verlede week het ons sy hemelvaart gevier. Nou staan ons voor ‘Pinkster’, die uitstorting van die Heilige Gees.
Beteken dit ons Here is dan nou weg? Het Hy nie voor sy hemelvaart beloof dat Hy altyd met ons sal wees nie en dat Hy ons nie wees hier op aarde gaan agterlaat nie? Het die Heilige Gees Hom as’t ware hier by ons vervang? Luister wat beloof ons Here ons in Johannes 14:16-18. Die Heilige Gees is die ander Trooster wat nie net by ons nie, maar in ons woon. As ander Trooster vervang Hy nie vir Jesus nie – nee, Hy kom by! Jesus bly steeds ons Trooster waar Hy in die hemel vir ons pleit. Ons het dus nou twee Troosters – Jesus wat in die hemel vir ons intree en die Heilige Gees wat ons hier op aarde in ons swakheid bystaan. Dit is die kragtige inhoud van Pinkster. Jy is nooit ooit alleen nie! • Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie (Lukas 23:34).
• Ek verseker jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees (Lukas 23:43). • Daar is u seun. Daar is jou moeder (Johannes 19:26, 27). • My God, My god, waarom het U My verlaat? (Matteus 27:47). • Ek is dors (Johannes 19:28). • Dit is volbring (Johannes 19:30). • Vader, in U hande gee Ek my gees oor (Lukas 23:46). Ek hoor vanaf ’n kruis woorde van vergifnis; ek hoor genade; ek hoor liefde en omgee; ek hoor helle angs; ek hoor swaarkry; ek hoor oorwinning en in die laaste kruiswoord hoor ek woorde van vrede ... Jesus gaan na sy Vaderhuis toe! Meer as dit, Hy berei deur sy sterwe ook vir jou en my die weg na ons Vaderhuis. Het Hy nie immers self belowe dat Hy vooruitgaan na die Vaderhuis om vir ons daarin woonplek te gaan voorberei nie? En wanneer daardie hemelwoning in gereedheid gebring is, dan kom Hy ons self haal (Johannes 14:1-4). Jesus se dood het aan jou en my dood ’n nuwe betekenis gegee: “Ons gaan huis toe!” Juis dit is wat ons in hierdie week van hemelvaart saam gedenk. |
Argief
November 2017
|