Die Jakarandas het begin blom. Vir Pretoria-studente is dit ‘n teken van die aanbreek van eindeksamen-tyd. Die vraag op almal se lippe is egter of studente aan die einde van die jaar nog eksamens gaan skryf.
Jesus ken die kommer in ons hart, en Hy het dit aangespreek. Lees gerus Matteus 6:25-34 waar Hy ons oproep om ons nie te bekommer oor môre en oormôre nie. Hier gee Hy die teken van eenvoudige veldlelies as versekering van Sy versorging. As Hy sorgsaam na ‘n eenvoudige blommetjie kyk: “…hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie…” (Mtt6:30). Hier in Pretoria kan ons die Jakarandas sien as herinneringsteken van God se versorging. Hulle blom in hulle tradisionele pers prag. Hulle versier die andersins vaal strate met koninklike kleur. Mag dit jou telkens daaraan herinner: Midde in die onsekerheid van vandag leef ons met die sekere belofte dat ons veilig is in Sy hande en dat Hy vir ons sorg. Wees stil en berus in Hom en kyk met nuwe oë na die prag van die Jakaranda. “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matteus 11:28). Dit is die 24/7 uitnodiging van Iemand wat jy ten volle op sy woord kan neem. Dit is ‘n noodlyn wat nooit beset of onbeantwoord is nie. In ‘n wêreld vol onrus, vind jou rus in ons Here! Protesoptrede vir die #FeesMustFall-veldtog het ongelukkig oorgespoel tot geweld, vandalisme en intimidasie. Talle universiteite word erg ontwrig.
Emosies loop hoog na weerskante toe. Aan die een kant is daar dié wat sê dat geweld die antwoord is op die #FeesMustFall-veldtog. Aan die ander kant is daar dié wat kwaad is vir die geweldenaars en vandaliste. Wat albei groepe in gemeen het, is woede en wraak. Ook Christene word woedend. Dalk stoei jy ook met woede en wraakgedagtes aan die een kant, teenoor jou gewete wat jou aan die ander kant daaraan bly herinner dat “as julle kwaad word, moenie sondig nie …” (Efesiërs 4:26). Om regtig lig en sout vir Christus in hierdie omstandighede te wees, is baie moeilik. Ons bly egter daaraan gebind om anders as die wêreld op te tree in hierdie situasie. Daarom … “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie” (Romeine 12:17) en “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie” (Romeine 12:21). So moeilik as wat dit dalk vir jou mag wees, maak hierdie ’n persoonlike uitdaging om God hierin te gehoorsaam en bid om sy krag hierin. Skielik is universiteitsonrus weer voorbladnuus. #Feesmustfall is op almal se lippe en plek-plek begin vuiste selfs swaai.
Aan die een kant is daar mense wat deur dié veldtog gratis hoër onderwys wil ontvang. Aan die ander kant is daar die realiteit van tersiêre opleiding wat peperduur is. Menslikerwys gesproke, bly die bekommernis oor waar hierdie twee partye mekaar gaan vind. Tog ironies dat die grootste skat dikwels misgekyk word. Ons hoef nie te toi-toi of te baklei vir Jesus se redding nie, dit kom juis gratis uit die oorvloed van God se liefde. Omhels hierdie gratis geskenk van redding wat jy sonder verdienste ontvang het en deel jou dankbaarheid met diegene rondom jou want: … julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet (Matteus 10:8). Vry om te dienJesus het gesê dat hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as betaling van sondes te gee (Markus 10:45). So het Jesus by geleentheid dit gedemonstreer deur sy dissipels se voete te was. Dit het hulle stomgeslaan, omdat mens dit destyds nie eens van jou slaaf kon verwag nie. Jesus het daarop gereageer met die opdrag: “Ek het vir julle ʼn voorbeeld gestel, en soos ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen” (Johannes 13:15).
Uit Jesus se voorbeeld het hy vir ons gewys dat dien ʼn werkwoord sonder die verwagting van vergoeding of aansien is. Die grootste bewys daarvan is dat Hy sy lewe ook vir jou afgelê het deur naak en verwerplik aan ʼn vervloekte kruis te sterf (Jesaja 53:2, 3). Dalk is dit nodig om in die prestasiegedrewe samelewing van vandag opnuut te besef dat ons deur Christus geroep en vrygemaak is om mekaar in liefde te dien. Gee van jouself sonder die verwagting van vergoeding of aansien: Om te gee maak ʼn mens gelukkiger as om te ontvang (Handelinge 20:35). LoslitdagDie aanbreek van lente gaan in Suid-Afrika altyd gepaard met Loslitdag. Vanjaar vier ons dit op Vrydag 2 September wanneer ons in besonder daarop fokus om ’n vreugdevolle verskil te maak in die lewe van mense met gestremdhede. In hierdie bedeling leef ons in die “winter” waarin daar nog baie swaar en seer en waarom-vrae is. Die goeie is egter dat ons ook leef met die belofte van ’n permanente lente wat eendag gaan aanbreek:
Toe sê Hy wat op die troon sit: Kyk, Ek maak alles nuut (Openbaring 21:5). Daarom kan ons saam met Paulus getuig: Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (Romeine 8:18). Reik hierdie week uit met Jesus se liefde na mense wat beperkinge het en leef met die sekere wete dat jy ’n voorsmakie is van die permanente lente wat kom. Die Augustus-winde het begin waai. Boere is dankbaar, want die winde is die aankondiger van die reënseisoen. Eintlik is dit nie die “Augustus-winde” nie, maar eerder God se winde, want dit is Hy wat die krag van die wind bepaal en die reën stuur (Job 28:25-26).
As ons Here die skepping so fyn beheer, hoeveel te meer nie jou lewe nie. Die detail van jou lewensdae is reeds deur God opgeskryf nog voordat jy gebore is: U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is U gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! (Psalm 139:16). Laat die Augustus-winde jou herinner aan Hom wat groter is as die stormwinde in jou lewe. Volgens die gemeentelike kalender vier ons DV eerskomende Sondag weer Nagmaal by Brooklyn. Het jy al mooi gedink waaroor Nagmaal gaan? Met Nagmaal vier ons die dood en opstanding van ons Here Jesus. Sy liggaam is gebreek en sy bloed het gevloei tot “volkome versoening van al ons sondes” (Nagmaalsformulier). Ons sal nooit kan besef hoe grusaam en wreed die kruis as betaling van ons sonde was nie (Jesaja 52:24-53:10) ... en om te dink dat Jesus in sy onskuldige lyding aan die kruis aan jou persoonlik gedink het as sy kind!
Dit lei mens na die vraag: vir wie is Nagmaal ingestel? Dit is vir elkeen wat eerlik besef hoe sondig hy of sy werklik is, wat opreg glo dat Jesus alleen ons Verlosser is, en wat die opregte begeerte het om in alles in die lewe dankbaar en tot eer van ons Here te lewe. Nagmaal mag nooit ’n kalendergewoonte word nie, want ek moet élke dag besef hoe sondig ek is, élke oomblik in Hom bly glo en wát ek ook al dink, sê of doen, dit áltyd tot sy eer doen. Nagmaal is ’n afhanklike dankbare lewe elke dag! Luister jy?Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag (Deuteronomium 6:4).
In vandag se wêreld is daar baie stemme wat meeding vir jou aandag. Tussen al die gejaag deur raak dit soms moeilik om stil te word en dan kan dit maklik vir jou voel of God besig is om stil te raak. Die realiteit is dat God nie stil raak nie, jy moet dalk net weer begin fokus om te luister. Die teoloë Leonard Sweet en Frank Viola skryf hoe belangrik dit is om te luister as jy God se stem wil hoor: The primary gateway to the soul is the ear. By definition, the disciples of faith are first and foremost listeners. The very word disciple means “the one who listens and learns”. Maak seker dat jy hierdie week die vaardigheid van luister oefen, sodat jy God se goeie nuus duidelik kan hoor. |
Argief
November 2017
|