Handelinge 9:19-20 Paulus was besig om die kerk te vervolg toe hy ’n kop-aan-kop-botsing met Jesus gehad het. Dit het radikale gevolge gehad, want voordat hy sy oë kon uitvee, is hierdie vervolger ’n volgeling. Nadat hy met Christus se genade en liefde oorweldig is, het hy “dadelik in die sinagoges begin verkondig dat Jesus die Seun van God is”. Dit beteken dat jou (miskien duistere) verlede nie teen jou hoef te tel nie, want Jesus gebruik jou nou. God slaan ook met ’n krom stok ’n reguit hou. Die Bybel is God se Woord, oftewel, God wat met jou praat. Hy praat nie net sommer omdat praat praat is nie! In 1 Johannes 5:13 gee Hy self die rede vir sy besondere openbaring aan die mens. Dit is naamlik die Blye Boodskap: “sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo”. In sy Woord vertel Hy ons van die skepping, hoe ons in sonde geval het en hoe verlore die mens sonder Hom is. Die Woord is die Blye Boodskap van Jesus wat vir ons sonde betaal het en dat Hy met ons op pad is na die ewige lewe. Lees hierdie Blye Boodskap, glo dit, leef daarvolgens en vertel ander daarvan ... wie weet, dalk is jou voorbeeld vir ander die enigste Bybel wat hulle al gelees het. Mag ander in jou iets van die Blye Boodskap raaksien en God aanbid. ’n Mens kan baie dinge oor Suid-Afrika sê, maar dat dit vervelig is, is nie een daarvan nie. Ons sien hoe die parlement in chaos verval, hoe korrupsie onder ons leiers nuwe vlakke bereik en hoe mense in opstand begin kom teen swak dienslewering. In sulke omstandighede verval mense soms in moedeloosheid. Nou kan ons vra, hoe moet gelowiges reageer in sulke tye? Die antwoord is, met hoop! Ons weet mos dat Jesus met ons op pad is en dat daar ’n wonderlike toekoms vir ons wag. Dit is juis wanneer die wêreld in sak en as sit dat ons ’n geleentheid het om Jesus se lig die helderste te laat skyn. Petrus skryf ook aan ons:
Ons bid so maklik vir mense in moeilike omstandighede en dit is reg. Daardeur begryp ons God is ons hulp en ons is afhanklik van Hom. Om egter net in moeilike omstandighede vir mekaar te bid is ’n verskraling van ons gebedslewe. In Kolossense 1:9-11 leer die Gees ons om vir mekaar te bid sodat ons “tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang”. Daag jouself hierdie week uit om nie net vir jouself nie, maar ook vir iemand naby aan jou ernstig te bid om voluit vir Jesus Christus te lewe. 1 Timoteus 1:17 Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen. In hierdie wêreld lewe ons in ’n rat race ter wille van oorlewing. Daar gebeur baie dinge wat negatief is en ’n mens kan maklik mismoedig begin raak. Ons wonder soms waarom so baie dinge verkeerd loop en wat is die doel van alles. Die goeie nuus van 1 Timoteus gee vir ons perspektief in hierdie gejaagde wêreld. God drie-enig is ewig Koning, Hy bly in beheer en ons is syne. Ons lewe nie ter wille van onsself nie, ons lewe om Hom te eer te midde van hierdie gejaagde wêreld, want tot Hom is alle dinge! |
Argief
November 2017
|